Stormkind deur Riana Scheepers
- salomebrown
- Nov 25, 2019
- 2 min read
Dit is my eerste kennismaking met Riana Scheepers se werk. En nou kan ek nie wag vir my kleinkinders om tieners te word, sodat ek vir hulle hierdie heerlike storie kan lees nie.
Dis die verhaal van Stormjana (die tienjarige Jana van Deventer) wat haar ma op driejarige ouderdom verloor, en nou saam met haar ouma en haar pa op die plaas grootword.
Jana loop in haar slaap, veral as die weer snags stormagtig is. Dit is hier waar werklikheid en drome verstringel raak en sy die werf snags vreesloos verlaat om op haar spookperd te ry. Dis ook waar sy haar droom-maatjie, ‘n boesmandogtertjie !X’uri, ontmoet wat haar help om in haar eie innerlike kompas te begin glo sodat sy kan sien waarna sy kyk en om so die raaisel van haar ma se verdwyning te help oplos.
Jana se ma is ‘n Ierse fluitspeler wat haar pa op ‘n universiteitskoortoer na Ierland ontmoet het. Toe sy tydens ‘n besoek aan haar geboorteland spoorloos verdwyn, begin Jana soek na haar ma, veral wanneer die wind snags stormsterkte begin waai.
Riana Scheepers se jeugverhaal neem mens op ’n stormreis tussen droom en werklikheid. Sy oorskry inderdaad allerlei grense om met ligtheid en grasie magiese realisme, oergeskiedenis, sprokies en mitologie in haar storie in te sluit.
Jana en haar ouma Lien het ‘n besondere verhouding en haar ouma vertel vir Jana stories uit haar eie jeug en haar vriendskap met Letjie Stamboom, ’n boesman-afstammeling wat al jare in die plaashuis werk. By Letjie leer Lien oor die boesmans se vermoë om hul intuïsie en sintuie ten volle in te span.
Deur haar verbintenis met Letjie en !X’uri word Jana bekendgestel aan van die ryk oorlewering van die boesman-kultuur – van hoe die wind eens ‘n meisie was, oor die krag van ‘n vallende ster as mens dit kan sien en die klip kan kry, en hoe mens kan ruik waar daar water is.
As jy weer wil onthou hoekom jy lief is vir hierdie land, is Scheepers se Stormkind die regte boek vir jou. Sy beskryf die bekendheid van ons landskappe, die plaas Stormkloof, die stormwind, weerlig en donderweer in beeldende taal en neem mens op ‘n reis deur ons noue verbintenis met die natuur.
Dis verfrissend om weer herinner te word aan die rol wat sprokies, voorvadergeeste en die mitologieë van Afrika in ons sosiale samestelling speel. Daar is byvoorbeeld Skeelpiet wat ook Jana se spoke kan sien en sê dat dit nie net die ou plaasmense is wat op Stormkloof spook nie, maar Slamaaiers en Engelse en Franse en ’n paar boesmans ook.
‘n Jeugverhaal? Dalk ja, maar vir my bied Scheepers se poëtiese prosa ‘n oomblik om weer stil te staan in verwondering oor ons taal se beeldrykheid en skoonheid wanneer dit deur ‘n bekwame skrywer ingespan word.

Comments