Reën vir Stofvlei deur Katherine Graham, in Afrikaans vertaal deur Elsa Silke en uitgegee deur NB Uitgewers, is die hartroerende verhaal van ontbering, geloof en hoop gedurende een van die langdurigste droogtes in die harde Boesmanland.
My vriendin Ruda Landman (Wahl), self ‘n nasaat van ene Adam Johannes Wahl (die eienaar van die plaas Stofvlei naby Pofadder soos in die verhaal beskryf), het die roman, wat deur ‘n veraf familielid van haar, Katherine Graham, geskryf is, onlangs raakgeloop en met my gedeel. Vertel uit die mond van die tienjarige oudste dogter, Elsie, is hierdie roman ‘n kosbare historiese juweel – ‘n storie oor die wel en weë van ons voorsate wat met soveel braafheid die ongenaakbaarheid van droë landstreke in ons land probeer tem het.
Die roman is gegrond op deeglike navorsing van wat die plaaslewe in die veertigs in Boesmanland behels het, kompleet met beskrywings van seepkook, koolstowe, buite-oonde, wye voor en agterstoepe, boorgate en windpompe. Graham bied, deur die oë van Elsie, die leser ‘n kleurvolle beeld van die droog-geteisterde omgewing, die yl troppies skape op die leë vlakes en natuurlik die tipiese gewoontes van die mense en hulle brawe geveg tot voortbestaan.
Vir Elsie (of Gogga soos sy genoem is) bestaan haar hele wêreld binne die grensdrade van die plaas Stofvlei – behalwe vir die vier Sondae van die jaar wanneer die familie dorp toe gaan vir nagmaalsdienste. Op die plaas is daar haar ouers se plaaswinkel, haar oupa se werkswinkel, die plaasskool, haar familie en haar maats. Verder is daar die neefs en niggie, haar sussie Riette, haar oupa en ouma, haar ouers, die onderwyser, en die kinders van die omgewing wat inwoon in slaapsale op die plaas.
Die verhaal speel af tussen 1940 en 1943 met 'n Wêreldoorlog wat woed, maar vir die boere, en vir Elsie in besonder, bly die voortslepende droogte, seisoen na seisoen, hul grootste bekommernis. Tenspyte van verhongerde en sterwende diere, droë boorgate en doodverbrande groentetuine wat al hul aandag verg en dus miskien na ‘n neurdrukkende verhaal klink, is Reën vir Stofvlei vol interessante en tipiese stories uit ons verlede wat nie net historiese waarde het nie, maar ingelyks vermaak met interessante staaltjies, onderonsies en pragtig ontwikkelde karakters.
’n Innemende, universele verhaal oor familie, kontrei, die mag van die natuur, hoop en geloof.
Comentários