Ons Skulde deur P.P. Fourie uitgegee deur Queillerie is ‘n boeiende spanningsroman gegrond op temas soos skuld, wraak, boetedoening en vergifnis. Ten spyte van die donker temas wat die roman onderskryf, slaag Fourie as begaafde storieverteller om die leser van die skokkende proloog tot die laaste sin vas te pen. Ek het die boek in minder as twee dae klaar gelees.
Dis die storie van Vera, Emma se oorlede man se eksentrieke tannie wat in ‘n groot ou sandsteenhuis op Clarens in die Oos-Vrystaat woon waar sy ‘n boekwinkel besit. Vera is minder bemind onder die dorpenaars vir haar uitgesprokenheid en haar minagting vir die kerk en samelewingnormes. As jong onderwyseres en pianis, erken sy aan Emma, het sy met getroude mans rondgeslaap sonder om enigsins gedagte te gee aan skuld of wat haar optrede aan ander kan doen – asof gevolge geen aandag werd was nie.
Dit het my onwillekeurig herinner aan die mantra waarvolgens ek my kinders groot gemaak het, naamlik dat mens kan doen wat jy wil en regte of verkeerde keuses maak, op voorwaarde dat jy altyd onthou dat daar gevolge is.
Vera, as die sentrale karakter, is ryk en interessant en hoogs vermaaklik. Sy is ‘n alkoholis, geopinïeerd en het ‘n woordeskat ryk aan vloekwoorde, maar sy is ook ‘n innige en eerlike mens. Wanneer haar susterskind se jong weduwee, Emma, opdaag om haar oorlede man se as te kom strooi op sy geliefde koppie buite die dorp, ontwikkel daar, teen alle waarskynlikheid in, ‘n vertrouensverhouding tussen die twee vroue.
Wanneer die inhoud van ‘n geheimsinnige koevert Vera angsbevange laat, besluit sy om die inhoud van soortgelyke koeverte wat sy oor die afgelope sewe jaar ontvang het, met Emma te deel. Elke jaar, kort na die ontvangs van die koevert, tref teenspoed Vera ten opsigte van iets wat vir haar kosbaar is.
Dit is hier waar die spanning in die roman toeneem wanneer Emma besluit om die raaisels te ontrafel en uit te vind wie ‘n wrok teen Vera koester. Daar is baie lae in hierdie roman en te midde van die riller wat angswekkend ontvou, word die leser gedwing om self die temas van skuld en wraak in oorweging te neem.
Netsoos met sy Hart so Groot soos ‘n Vuis slaag Fourie met Ons Skulde weer daarin om ‘n uitstaande literêre werk te skep wat nie op gruwels en geweld staatmaak om die leser te boei en te vermaak nie.
![](https://static.wixstatic.com/media/5072fe_38efe6a8abcc49e7afb1f36c8ee23250~mv2.png/v1/fill/w_499,h_770,al_c,q_90,enc_auto/5072fe_38efe6a8abcc49e7afb1f36c8ee23250~mv2.png)
Comments