top of page
Search

‘n Hart is so groot soos ‘n vuis deur P.P. Fourie

Updated: Nov 29, 2021

Ek moes myself staal om hierdie boek uiteindelik op te tel en te lees. Gesinsgeweld is vir my ‘n ontstellende tema. Hoekom dit dan lees? Omdat ek glo dat dit belangrik is om te weet hoe ons kinderjare en ons herinneringe ons as grootmense vorm en ons menswees bepaal.


P.P. Fourie se ’n Hart is so groot soos ’n vuis handel oor ’n seun se komplekse verhouding met sy gewelddadige dog charismatiese alkoholis-pa en sy vlugtogte vir hul lewens saam met sy ma.


Soos die skrywer self sê, ons herinneringe is in sigself ‘n storie want ons perspektief verander die werklikheid onvermydelik in ‘n vorm van fiksie. Dit is dus te verstane dat die boek as ‘n roman geskryf is eerder as ‘n outobiografie. Nogtans is my oorweldigende gevoel dat dit uiters braaf was om hierdie boek te skryf oor die geweld en die verwoesting wat so ‘n intieme deel gevorm het van sy kinderjare. Hoe hy in magteloosheid as klein seuntjie moes toekyk terwyl ‘n dronk, psigotiese pa sy ma mishandel en seer maak.


Dit is ‘n roerende verhaal van Paul se ontwikkeling as jongman, en oor sy selfontdekking. En hoe hy hom ontferm oor sy vervreemde half-broer, die enigste ander persoon wat dáárdie man ook “Pa” noem.

Die beeld van ‘n hart wat so groot soos ‘n vuis is, word vir my weerspieël deur die kontrasterende rol van liefde teenoor geweld wat Paul as jong kind ervaar en daarmee saam leer leef. Kinders maak staat op konsekwentheid in hul ouers se gedrag as ‘n veilige kompas. Paul word egter voortdurend gekonfronteer met ‘n ouer wie se gedrag van een uiterste na ‘n ander kan swaai – die van ‘n liefdevolle leermeester tot ‘n monster.

Tenspyte van die trauma wat gesinsgeweld kenmerk, slaag Fourie daarin om hier ‘n sensitiewe kunswerk te skep. Die roman is uitstekend uit Engels in Afrikaans vertaal deur Marius Swart.




0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page