top of page
Search

Mixtape van die liefde - saamgestel deur Antjie Krog

Digter Quinne Brown gesels hier op Book Chats with Salomé oor Mixtape van die liefde, saamgestel deur Antjie Krog en gepubliseer deur Lapa.


Hierdie bundel is inderdaad 'n uitmuntende samestelling van gedigte van alle vorme oor die uitdrukking van liefde. Met Mixtape van die liefde gooi Antjie Krog van ons gunsteling digters saam in een boek, en, soos vriendin Liezl Kruger tereg sê, as jy net een digbundel besit, is dié een 'n goeie keuse.


As mens nie mooi kyk nie, dink jy dalk vir 'n oomblik dat dit Antjie Krog se eie nuwe digbundel is, maar soos die titel uitdruklik sê, dit is 'n ‘mixtape’ waarmee sy die uiteenlopenheid van die liefde deur verskillende stemme wil kommunikeer.


Ek onthou hoe ons mixtapes vir mekaar op hoërskool in die '90s gemaak het. Dié samestellings was 'n manier van kommunikeer oor hoe ons voel en alles waarvoor ons nie woorde kon vind nie.


Krog se saamgestelde bundel herinner ons weer aan die legendes in ons digters-wêreld soos Jonker, Totius, Boerneef, Opperman en Van Wyk Louw om net 'n paar te noem, en dan stel sy ons ook voor aan jonger stemme en skitterende vertalings van gedigte uit ander tale. Van Krog se eie gedigte is daar net drie in die bundel ingesluit; terwyl sy ook sommige van die vertalings gedoen het van ander.


Bibi Slippers laat mens voel jy is modern en resent; en die vertaling van Leetile D Raditladi se gedig Reën verlig die metafore van 'n ander taal en ervaring. Churchil Naude se gedig Die bloed het my so aangegryp dat ek dit 'n paar keer hardop gelees het en dit met almal wil deel.


In my opinie, vang poësie 'n oomblik vas om sin te maak van ‘n gevoel om sodoende ‘n sielvolle perspektief te bring. Eers wanneer mens die woorde hardop lees kan mens werklik sin maak daarvan en dit is wanneer ‘n stuk die hart vang. Soekend na liefde in die oomblik, deur die rou en in mekaar se uiteenlopende perspektiewe en lewenspaaie, is dit dikwels 'n gedig wat jy hardop lees en hoor, wat jou hart oopmaak.

Soos met 'n mixtape, moet mens die bundel van 'n kant af vat, die boodskap ontsyfer en dan jou gunstelinge kies wat jy oor en oor wil lees en luister. Die waarde van hierdie boekie in my sak, is die inspirasie en die gevoel dat daar iemand is wat verstaan waar ek met die liefde staan en in watter konteks ek dit voel.



0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page