Katvis deur Annalie Botes, uitgegee deur Penguin Penguin Random House South Africa, is die hartverskeurende verhaal van ‘n vrou wat na ’n 12-jaar huwelik met ‘n sadis, inderhaas besluit om pad te gee met net haar handsak, koffer en viool. Nie eens haar ma weet waarheen sy gaan nie. Al wie weet, is die eienaar van ’n gastehuis naby Maclear waar sy ‘n pos as bestuurder op die internet aanvaar het.
Soos in al haar boeke (ek is ‘n aanhanger), slaag Botes met haar penvernuf en haar gawe om ‘n storie te vertel, weereens met Katvis. Dis ‘n aangrypende verhaal oor die weerloosheid van veral vroue, wat met slim bemarking en beloftes deur sluwe misdadigers op die internet in ‘n wip gevang kan word. Alle eer aan Botes wat die bul by die horings pak om met hierdie roman tydige en betekenisvolle sosiale kommentaar te lewer op die gevare van die ongereguleerde tegnologiese oerwoud.
Maria droom oor die vooruitsigte van ‘n nuwe lewe op ‘n gasteplaas in die Oos-Kaap waar sy uiteindelik kan wegkom van haar armoedige grootwordjare en die sinloosheid van haar huwelik waartydens sy vir jare lank deur ‘n narsissis afgeknou en afgetakel is. Sy droom oor die veilige heenkome wat wag en ’n plaas waar sy op ’n bergkrans sal kan sit en vir die grysduikertjies viool speel en tot verhaal sal kan kom.
Maar minute nadat sy op die plaas aankom, besef sy sy is ge’katvis’ deur ’n bedrieër. Sy is in ’n slagyster gevang en niemand weet waar sy haar bevind nie. Maria besef sy het geen ander keuse as om die nuwe oorlog met haar gebrekkige kennis van sielkunde te probeer wen nie.
In die maandelinge voltering van gevangeneskap in ‘n donker kelder en die byna onmenslike mishandeling en aftakeling wat sy moet trotseer, gebruik sy die herinneringe uit haar kinderjare as ‘n skans teen die verkragtings en daaglikse kastyding in die hande van ‘n waansinnige.
Dit is haar ma, Selina, se eenvoudige huisie en ’n tuintjie met swaelstertskoenlappers, die klank van ’n viool en die diep medemenslikheid en sorgsaamheid van die mense van haar jeug en die staaltjies van hul wel en weë wat Maria deur die donker duisternis dra.
Katvis is nie vir die fynbesnaardes nie, dit sny diep. Die brutaliteit in die roman slaan met tye ‘n mens se asem weg. Nogtans, net soos vir Maria, bied haar herinneringe van die armoedige voorstad in die Baai welkome verligting en selfs ‘n hardop-lag of twee.
Yorumlar