Marita van der Vyfer se Grensgeval is ‘n storie wat tot my en my tydgenote spreek. Veral van betekenis vir ons wat in die sewentigs gematrikuleer het of pas die skool verlaat het – in die ou Suid-Afrika waar ons nie vrae gevra het nie en waar ons aangesê is wat ons moes dink en glo.
Jong onskuldige bloedjies op die vooraand van hul grootmenslewe. Met ons maats en kêrels wat opgeroep word om soos helde op ons grense te gaan veg sodat ons beskermd kan wees teen die “rooi-gevaar”, die “swart-gevaar” en telke ander “gevare”. Dit was die Suid-Afrika van my adolossensie – wat met die lees van hierdie boek skrynend in my kop kom nesskop het en nou nogsteeds daar bly sit.
Ek kon eenhonderd present met Marita se beskrywing identifiseer van ons sorgelose somer-vakansies by die see terwyl die “troepies” hulle eie nagmerrie op ons grense beleef het. Ek was ook daar in die somerson op die strand.
Dit is inderdaad ‘n “onthou boek” soos Joan Hambidge in haar resensie sê. Die vreemde geheimhouding wat die grensoorlog omvou het en waaroor meeste wat daarvan deel was nogsteeds nie praat nie, het dit vir ons enersyds onwerklik gemaak en andersyds verdoesel. Tot een van jou vriende of familielede op die grens of in Angola sterf. Dan word dit ‘n aaklige werklikheid.
Grensgeval is nie ‘n oorlogsroman nie – moenie hier kom soek vir feite en verklarings en detail oor die nodelose oorlog waarin so baie jong Suid-Afrikaanse seuns met hulle lewens geboet het nie. Dit is ‘n storie van hoe hierdie oorlog, net soos elke ander oorlog, deur opperhoofde en politieke magte verklaar is en hoe dit dood gewone mense se lewens verewig verander het.
Theresa Marais is in haar vyftigs toe sy in haar verlede begin delf en terselfdertyd besef hoe beskermd en oningelig sy groot geword het en hoe min sy werklik weet van al die ander inwoners op verskeie vlakke en rasse wat saam met haar in dieselfde land bly.
Dis seker vir baie van ons wat in die vyftigs gebore is die grootste vraagstuk: hoe dit gebeur het dat ons sulke eensydige, gefiltreerde inligting gekry het? En dit toegelaat het tot dit te laat was?
Dit is terwyl sy deur haar man, Theo, van wie sy lankal geskei is en wat intussen oorlede is, se foto’s en sy dagboeke blaai, dat sy op ‘n brief in Spaans afkom. Uit die dagboek lei sy af dat die brief aan ‘n Kubaanse soldaat behoort het wat in Angola aan die hand van haar haar eks gesterf het. So begin haar soektog na die kind – ‘n pasgebore baba wat nou minstens 40 jaar oud moet wees – aan wie die brief gerig is.
Sy voel genoop om die kind te vind en die brief te oorhandig asof sy so sal kan vergoed vir haar eie onkunde oor die onbesonne oorlog waarin die kind se pa dood is en Theresa haar man aan waansin verloor het; of dan om minstens namens haar eksman, vergifnis kan vra. Met net die naam van dogter bo-aan die brief begin sy haar soektog wat haar tot in Kuba en uiteindelik terug na Suid-Afrika sou lei.
Dit is ‘n omvangryke storie waarin Theresa telkens terugkeer na haar eie jeug vol voorbehoud, eerste liefdes en universiteitslewe; haar verhoudings met haar familie en haar gekompliseerde skoonma. Dit lei haar onvermydelik terug na haar traumatise huwelik met ‘n man wie se versteurdheid al meer akuut geword het na wat met hom op die oorlogsfront in Angola gebeur het, en wat hom uiteindelik in ‘n inrigting laat beland het tot sy dood.
Theresa se reis na, en haar tyd in Kuba word ‘n ryk ontdekkingstog wat die leser meesleep. Van die ou klassieke motors, die verwaarlosing, skaarste aan luukshede en selfs kos, tot die tipiese geregte, die mense se aard en die meesleurende musiek. Daarby bring die eksentrieke karakters wat sy daar ontmoet en bevriend ‘n keerpunt in haar lewe mee.
Dis heerlik om te lees en saam met haar te ervaar. Dalk veral omdat Kuba en hul heersers altyd vir ons as die vyand opgedis is, is dit so ‘n verassende openbaring wat mens sommer lus maak om self daarheen te reis.
Volgens my is dit ‘n belangrike boek wat nuwe insig en perspektief bied. ‘n ‘Moetlees’ – selfs vir die wat baie later eers gebore is. Dis deel van ons geskiedenis wat later deel van ons Suid-Afrikaanse oorlewering en menswees geword het.
Comments