top of page
Search

Die verevrou – Jan van Tonder

Ek lees ook Afrikaanse boeke. Dis ‘n voorreg om boeke in Engels en in Afrikaans te kan lees, veral siende dat Engelse lesers uitmis op ons Afrikaanse skrywers se rykdom aan stories oor ons mense en ons land – oor ons kontinent en sy uitdagings. En dit in uniek Afrikaanse idioom na ons toe bring.


So het Jan van Tonder se Verevrou-storie my teruggevat na Oudtshoorn en De Rust en my weereens herinner aan die uitsonderlike skoonheid van Langenhoven se Klein-Karoo wat sy stories vir my as kind oopgemaak het. En daarby het Van Tonder daarin geslaag om my ook aan ‘n volksvreemde landskap soos die van Algerië bekend te stel.


Liora Papalato is in Algerië gebore en woon saam met haar ouers en haar tante op ‘n volstruisplaas aan die rand van die Sahara-woestyn waar sy, omring deur volstruisvere van haar tante se pluimery, grootword en haar dae meestal op haar swaai deurbring waar sy glo sy vry kom van die spanning tussen haar ma en haar pa en die oorlogsbedreiging op die horison. Die liefde van haar lewe is haar oom Moshe Habib, ‘n Joodse volstruispluim-handelaar wat gereeld vir haar tante pluime uit die Klein-Karoo bring.


Jan van Tonder skryf ‘n meesleurende verhaal wat afspeel tydens die bloeitydperk van die volstruisbedryf van die laat 1940’s, waar vroue met hoede en jasse en allerlei versiersels wat van veelkleurige en flambojante vere gemaak is, die bedryf laat floreer het. Liora en haar mense se lewens word onherroepbaar geraak deur die bloeddorstige oorlog in Algerië, ‘n land wat, soos Van Tonder skryf, verskeur is tussen Europeër en Arabier, Christen en Moslem, kolonis en gekoloniseerde.


Hy beskryf drie vroue – elkeen wat dalk die “Verevrou” kan wees – met soveel sensitiwiteit en deernis dat dit duidelik is dat hy saam met vyf sussies groot geword het en vroue goed verstaan. Gevolglik voel mens asof jy hierdie vroue intiem ken. Die verhaal vat ons oor kontinente heen – speel af in verskillende tydvakke (1948, 1960’s en 1992), en telkens word die omgewing deur sy weldeurdagte en beskrywende teks binne ‘n oogwink vir mens bekend.


Liora se storie begin op die plaas aan die rand van die woestyn vanwaar sy as verpleegster in die geroesmoes van die hoofstad Algiers gedurende die afgryse van die oorlog in die sestigs gaan werk; haar vlug uit die brandende stad en haar lewe as pluimassier in die glansryke Parys voor sy 40 jaar later na Oudsthoorn reis om haar belofte aan haar oom Moshe na te kom.


Die ander storie is oor Candice Lamat wat in Blomnek en De Rust grootword en ook as jong kind aan die wonder van vere bekendstel word. Sy raak verlief op haar pa se werkgewer se seun en moet landuit vlug waar sy as model in Europa gaan werk voor sy terugkeer om toeriste in die strate van De Rust op haar stelte te vermaak. Dit is hier waar sy en Liora paaie kruis – in die stofstrate van De Rust – deur die unieke “taal” van die pluim.


Dit is egter die talle storielyne in die boek, en sub-stories en ook die vele sosiale raakpunte van seksuele ontwikkeling en voorkeure, tot ouerskap, godsdienstige onverdraagsaamheid en rassespanning wat Die verevrou ‘n leeservaring maak waaroor mens lank peins.


Ek voel asof ek dit weer wil lees. Enersyds omdat dit so mooi met ons taal omgaan en so uitstekend geskryf is, maar ook omdat die subtiliteit waarmee Van Tonder so baie van ons samelings-vraagstukke aanpreek, mens laat wonder wat jy dalk nog gemis het. Ek het dit regtig geniet. Dankie Jan.




0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page