In haar historiese roman, Die Oseaan Tussenin, uitgegee deur Penguin Random House, bied die skrywer, Janette Stals, ‘n intieme en insigggewende blik op wat ons voorgeslag tydens die drie-jaarlange Anglo-Boere-oorlog op die slagveld en in die konsentrasiekampe deur gemaak het. Dit is iets waaroor ek, as Afrikaner-nasaat al dikwels gewonder het en waaroor ons oumas en oupas traag was om te praat. Amper asof dit ‘n taboe-onderwerp was.
Hoewel ek deeglik bewus is van die feite, soos dat die oorlog die Boererepublieke verwoes het en dat daar, volgens Generaal Lord Kitchener se Verskroeide Aarde-beleid, plaashuise verwoes is, diere vankant gemaak is, landerye verbrand is en dat daar duisende vroue en kinders in konsentrasiekampe aangehou is en gesterf het, het die lees van Die Oseaan Tussenin vir die eerste keer vir my die omvang en impak van hierdie oorlog ‘n persoonlike en pynlike werklikheid gemaak.
Stals slaag daarin om deur middel van eerstehangse en persoonlike stories uit haar familie-geskiedenis haar karakters se belewenis van die wreedheid van oorlog met insig en emosie tuis te bring. As leser het dit vir my gevoel of ek saam met die manne in die guerrilla-oorlog een waaghalsige aanval na die ander aandurf en ook asof ek saam met die vroue en kinders op die plase agtergelaat is en later per wa vir dae aaneen na die haglikheid van die konsentrasiekampe vervoer is. Stals gee ook erkenning aan die plaaswerkers wat sonder heenkome op die dorre aarde moes probeer oorleef.
Pieter Nel is een van die leiers in ’n kommando bittereinders wat desperaat bly voort veg in ‘n poging om teen die Britse ryk op te staan en hul land te probeer behou, hul plase te beskerm en weer hul boerderye voort te sit. In hul brawe stryd offer hulle alles op vir ’n vrede wat dalk nooit gaan kom nie, vir ’n huis wat hulle dalk nooit weer gaan sien nie.
Intussen baklei sy vrou, Katrina Nel om haarself en haar vier kinders in die konsentrasiekamp aan die lewe te hou waar hongersnood, gebrek aan mediese hulp en basiese lewenstandaarde al hoe hagliker raak. Hier word haar lewe onlosmaaklik vervleg met dié van die ander vroue, die hanskakies wat die vyand help om die kampe te bestuur, en die Engelse offisier wat haar goedgesind is.
Stals se sukses met Die Oseaan Tussenin is uiteraard gegrond op haar deeglike navorsing, maar dalk meer nog op die balans wat sy bemeester tussen die twee hoofkarakters se stories en die verskil in hul ervaring van hierdie pynlike stuk geskiedenis van ons land. Haar benadering maak die leser deel van Pieter en sy kamerade se ontberings en klopjagte teen die Engelse, gevangenis- en ballingskappe; terwyl sy daarteenoor ‘n intieme blik werp op Katrina se daaglike uitdagings op voortbestaan in die kamp, die vriendskappe tussen die vroue wat hul staande gehou het en die menslike dramas wat deel was van hul bestaan.
Comments