Die kapokdokter deur Francois Loots wat in Oktober vanjaar uitgegee is deur Penguin Random House South Africa, is ‘n historiese roman gebaseer op die wedervaringe van Dr James Barry, ‘n militêre snydokterassistent wat in 1816 in die Kaapkolonie onder goewerneurskap van Lord Charles Somerset geplaas is.
Met sy openingsin: ‘Hy staan met sy rug na sy opponent toe gedraai. Die pistool in sy hand is gelaai en gereed om afgevuur te word’, maak Loots seker dat hy die leser se aandag vasgryp en vir die res van die verhaal geboei hou.
Die Kapenaars is nuuskierig oor die enigmatiese Dr Barry met sy fynbesnede gelaatstrekke, klein liggaamsbou en flambojante kleredag wat met sy uitsonderlike vaardigheid as medikus gou vir homself naam maak. Kort voor lank word hy weens sy tingerige gestalte deur die vroue aan die Kaap die ‘kapokdokter’ gedoop. Kapokbabas is wat hulle vroeggebore babas wat lig is, genoem het.
Toe hy Lord Charles Somerset se lewe red, word hy aangestel as die goewerneur se huisdokter en word ‘n steunpilaar vir die goewerneur en sy gesin. Tenspyte van sy uitgebreide kennis oor die mediese wetenskap, is daar diegene met bedenkings oor die raaiselagtige dokter, ondermeer kaptein Josias Cloete, die goewerneur se aide-de-kamp wat wantrouig aanhou uitvra oor Dr Barry se agtergrond en oor waar hy sy mediese kennis, veral oor geboortes, opgedoen het.
As die mediese inspekteur van die Kaap het hy hard gewerk om toestande te verbeter soos om die verkoop van kwak-medisyne hok te slaan, toegang tot skoon water vir ryk en arm beskikbaar te maak en om die versorging van melaatses te verbeter. In 1926 het hy bekendheid verwerf toe hy die eerste keisersnee in die Kaap suksesvol uitgevoer het.
Dr Barry is duidelik nie wie hy voorgee om te wees nie. Loots se skrywe maak die leser op ‘n slim manier deel van die dokter se geheim deur toegang te bied tot die lewenslange interne tweestryd wat hierdie besondere historiese figuur tot en met sy dood gevoer het.
Loots kwyt hom uitstekend van sy taak om met sy literêre vaardigheid en sy onderhoundende skryfstyl die Kaapkolonie van ouds - met al sy tekortkominge en sy glorie, op kleurryke wyse te laat herleef. Ek het my veral verlekker hoe die skrywer terselfdertyd ‘n intieme blik bied op wie en wat Dr Barry was (‘n historiese figuur van wie daar min indien enige inligting oor sy private lewe beskikbaar is); en wat dit van die brawe dokter moes geverg het om homself daagliks deur sy bestaan en die uitdagings as medikus te navigeer.
In retrospek is Die kapokdokter eintlik ‘n baie tragiese verhaal, een wat uitlig hoeveel mense in die vorige eeue soms van hulself moes prysgee ten einde die beroep van hul keuse te kon beoefen of om hul passie te kon uit leef.
Loots se historiese roman slaag daarin om ‘n deel van ons verlede deur hierdie kleurvolle storie van 'n besonderse mens, na vore te bring en te wys hoe diep die spore van randfigure in die geskiedenis lê. Dis boonop ‘n lekker boek om te lees.
Comments