Die Fantastiese Mevrou Smit deur Elizabeth Wasserman (uitgegee deur Penguin Random House Suid-Afrika) is ‘n uiters genotvolle leeservaring. Al is ek nie juis ‘n misdaadroman-aanhanger nie, veral nie as dit donker, polities of wreedaardig is nie, het ek hierdie ‘tong-diep-in-kies krimi’ gate uit geniet. Dit is, soos my vriendin Elsa tereg van die boek sê: “hoogs oneerbiedig en vermaaklik, maar met ‘n snaarstywe spanningslyn”.
Die Fantastiese Mevrou Smit is ‘n ‘cosy-crimi’ wat, tiperend van hierdie genre, propvol eksentrieke karakters soos kleindorpse skindertonge is, stofstrate, alledaagse gebeure en pragtige natuurskoon, maar met die onafwendbare ‘duiwel’ wat onder dit alles ronddraai. Dit het my laat dink aan Sally Andrew se Tannie Maria-reeks wat in die Karoo afspeel en Richard Osman se The Thursday Murder Club in die ouetehuis waar moorde nie op grusame wyses gepleeg word of grafies beskryf word nie. Trouens, die moord en die ondersoek word so subtiel tussen die ander kleurvolle storielyne ingeweef dat die leser maklik gesus word en dus telkens onkant betrap word.
Met haar aankoms in Aronspoort, ‘n klein fiktiewe dorpie tussen die Langeberge wat volgens die skrywer losweg op Montagu in die Wes-Kaap geskoei is, maak Mevrou Smit onmiddellik opspraak toe sy na ‘n moles in die hoofstraat en ‘n onderonsie met die gereg vir die nag in ‘n tronksel beland.
Toe sy die volgende oggend by haar nuutgekoopte huis instap, ontdek sy die lyk van ‘n vrou op die kombuisvloer. Terwyl sy heimlik bespiegel of sy nie dalk self die teiken kon gewees het nie, besluit sy daar en dan om vrou-alleen die moordenaar op te spoor, kom wat wil. In die proses trap sy op ‘n paar tone, krap ‘n paar geraamtes uit die dorp se kaste en bevind haarself in talle benarde situasies.
Toe daar nog ‘n moord plaasvind en Mev Smit se gesnuffel haar behoorlik ongewild begin maak, raak dinge al hoe meer gekompliseerd. Mev Smit, met haar vinnige humeur en haar skerp tong, het duidelik self ‘n paar goed om weg te steek en sy moet fyn trap om te verhoed dat die polisie en die joernaliste nie begin rondkrap en haar dalk ontbloot nie.
Die dorp, waar almal mekaar ken, asook skynbaar al mekaar se geheime, is gefassineer deur Mev Smit wat enersyds onbeskof, kort van draad en vaal van voorkoms is, maar andersyds duidelik iets spesiaals het wat sy hard probeer wegsteek. Sy het, na alles, na die klein plekkie toe gekom om van haar verlede te probeer ontsnap.
Dit is Wasserman se skryftalent en taalgebruik wat uitstaan, en daarby haar vermoë om volronde karakters te skets. Die kuns om interessante karakters te skep wat in vreemde en soms komieklike situasies beland is van die voorvereistes vir sukses in hierdie genre. En Die Fantasiese Mevrou Smit is propvol daarvan, insluitende karakters soos die dominee wat dalk nie alles is wat hy voorgee nie, sy preutse vrou, haar skinderbek ma, die vatterige posmeester, ‘n aantreklike dokter en ‘n baba-ystervark, om maar enkeles te noem.
Lees dit gerus, dit is pret en ‘n vreugde om te sien hoe ‘n skrywer met ons taal kan toor.
Comments